Stewige vleispryse dui op duur braai in Desember

Met Kersfees nie ver weg nie, dui die huidige neiging in vleispryse daarop dat dit duur gaan wees om tydens die feesseisoen te braai, volgens FNB.

Die seisoenale aanvraag vir vleis bly stewig en weeg swaarder as die relatiewe hoër slagkoers in die lewendehawebedryf, wat normaalweg tot laer pryse sou lei weens die verhoogde beskikbaarheid van die produk. Die tempo van veeslagtings is tans relatief stewig met slagsyfers van beeste, skape en bokke wat heelwat hoër as 2019-vlakke is.

Teen dié koers sal die maandelikse verbruikersprysinflasie van vleis na verwagting in die volgende opdatering van Statistieke SA relatief tot verlede jaar opwaarts neig. Die verbruikersprysindeks het tydens September 2020 jaar-op-jaar met 4.4% gestyg.

Beesvleis

Pryse van A-graad beesvleis het vir die eerste keer deur die R50.kg-kerf beweeg weens ‘n hoër vraag en dit is tans met meer as 15% bokant die 2019-vlakke. Goeie weidingstoestande weens die reën in sommige gebiede voorspel gunstige pryse oor die medium termyn omdat produsente hul diere sal terughou. Ander gebiede moet egter nog herstel, veral die gebiede wat onlangs in die Vrystaat afgebrand het. Die huidige stewige beesvleispryse sal waarskynlik gehandhaaf word soos wat ons die feesseisoen betree. Boere sal egter nie al die pad bank toe glimlag nie aangesien die kombinasie van die relatiewe hoër speenkalfpryse en die verhoogde graanpryse voermarges oor die kort termyn sal beperk.

Skaap

Lam- en skaapvleis is tans onderskeidelik 28% en 40% hoër relatief tot die 2019-vlakke en dit is 15% en 16% hoër as die drie jaar-gemiddeld vir dié tyd van die jaar. Pryse sal na verwagting sywaarts beweeg met verdere verhogings oor die kort termyn weens die hoër seisoenale aanvraag. Die post-Covid-19 lang termyn vooruitskouing bly egter ‘n bron van kommer weens die moontlikheid van ‘n swak ekonomie en die gepaardgaande inkrimping in werksgeleenthede.

Varkvleis

Die oplewing in die varkmark het voortgegaan met produsentepryse wat op vlakke bokant R30/kg bly weens die goeie vraag en beperkte voorrade. Pryse is nou 15% hoër vir varkvleis en 9% hoër vir spekvarke, terwyl beide aansienlik hoër is met onderskeidelik 37% en 36% relatief tot die drie-jaar gemiddelde vir dié tyd van die jaar. Die huidige oplewing in varkkarkaspryse sal voortgaan omdat dit gerugsteun word deur ‘n groter vraag soos wat die feesseisoen naderkom. Die stygende mieliepryse oor die kort termyn en gepaardgaande hoër voerkoste bly egter ‘n bron van kommer omdat dit produsente se winsmarges sal laat krimp.