Moontlike verandering in hartwaterdemografie en bydraende faktore

Hartwater word veroorsaak deur die proteobakterium Ehrlichia ruminantium, wat deur die Amblyomma hebraeum bosluis oorgedra word. Dit is ekonomies een van die belangrikste bosluissiektes in Suid-Afrika. Dit is endemies in die noordoostelike dele van die land, vanaf die noordooste van die Noordwesprovinsie, deur Limpopo en die noordoostelike dele van Mpumalanga, tot die KwaZulu-Natal en Ooskaapkusstreke. Dit word bereken dat onderskeidelik tot 35%, 54% en 12% van die totale bees-, bok- en skaapgetalle onder risiko van besmetting is. Beheer is moeilik aangesien die huidige metodes slegs gedeeltelik doeltreffend is. Daar is byvoorbeeld geen veilige entstof nie. Die gebruik van voorkomende antibiotika is duur en dit mag bydra tot weerstandigheid by die organisme. Dieselfde argument kan gevoer word ten opsigte van middels om die bosluis te beheer. Daar is getuienis van veeartse dat hulle dink die verspreidingsgebied van hartwater is besig om te verander, maar dit is nog nie formeel getoets nie. Dus het die studie deur die outeurs hieronder aangehaal dit ten doel gestel om te bepaal of daar wel ‘n verandering in die verspreiding en voorkoms van hartwater is en indien wel, die redes daarvoor.

‘n Vraagondersoek is uitgevoer om die verspreiding en faktore te bepaal deur beide die veeartse en boere in die endemiese provinsies te betrek in die gebiede en plase waar hartwater voorheen gediagnoseer is.

Die resultate het bevestig dat daar veranderings plaasgevind het in verspreidingsgebiede, in sommige gevalle tot sovér as 150km. ‘n Totaal van 48% veeartse en 42% boere van die respondente het aangedui dat daar ‘n toename in getal plase was wat hartwater ondervind het. Klimaatsverandering is as ‘n rede voorgehou soos gedefinieer as ‘n toename in gemiddelde temperatuur, minder erge ryp, minder reën en korter reënseisoene deur die meerderheid boere, maar minder so deur veeartse. Beide boere en veeartse het verandering in weigeasse as ‘n belangrike faktor voorgehou. So ook is die toename in wildgetalle, veral boksoorte, deur beide boere en veeartse as ‘n belangrike rede gesien. Die toename in skuif en vervoer van beide vee en wild word gesien as ‘n toenemend belangrike faktor wat ‘n bron van kommer moet wees vir beide bedrywe, want dit lei tot die verspreiding van baie siektes, afgesien van hartwater. Die beheer van hartwater deur roetine en gereelde blokbehandeling van die totale kudde is ook deur beide respondente beskou as ‘n belanrike faktor en wat toeneem.

Bespreking en gevolgtrekkings:  Die toekomstige gevolge van staatmaak op bosluisbeheer deur meer dipepisodes van die hele kudde, sal onvermydelik lei tot weerstand teen die middels. Net so sal die gereelde blokbehandelings lei tot weerstand teen antibiotika (tetrasikliene) wat nog goedkoop en huidig doeltreffend is on hartwater te behandel. Daar is reeds ongetoetste getuienis dat weerstand besig is om te ontwikkel. Dit word al meer duidelik dat beheer van hartwater gedoen sal moet word met ‘n omvattende, gebalanseerde en epidemiologies-gesonde program en nie staat te maak op middels en antibiotika waarteen weerstand kan opbou nie. Belangrik is dat ‘n entstof ontwikkel moet word wat prakties, doeltreffend, veilig en bekostigbaar is. Na jarelange proewe het die navorsers van die Onderstepoort Veeartsenyinstituut nou ‘n belowende toetspoduk ontwikkel en dit is belangrik dat dit vinnig ontwikkel moet word deur Onderstepoort Biologiese Produkte na ‘n volledig kommersiële entstof. Vir ‘n langtermyn oplossing moet die rol wat genetiese weerstandbiedenheid of veerkragtigheid teen hartwaterinfeksie ondersoek word. Deur beter aangepaste diere te teel kan ‘n meer volhoubare benadering tot beheer gevolg word.

Verwysing:

Leask, R. & Bath, G.F., 2020. Observations and perceptions of veterinarians and farmers on heartwater distribution, occurrence and associated factors in South Africa. Journal of the South African Veterinary Association 91(0), a1763. https://doi.org/10.4102/ jsava.v91i0.1763