Vleiseters is minder depressief en angstig

‘n Vleisvrye dieet word verbind met hoër vlakke van depressie en angs as wat die geval is met mense wat ‘n omnivoriese dieet volg, volgens ‘n onlangse analise in die voedselwetenskap en voeding-joernaal.

Die analise het 20 navorsingstudies oor vleisverbruik en geestelike gesondheid bestudeer en bevind daar bestaan ‘n verbintenis tussen vegetarisme en swakker uitkomste in terme van geestelike gesondheid.

Die debat oor ‘n verbintenis tussen die twee duur egter voort. Hoewel sommige studies aandui dat veganistiese diëte met depressie verbind kan word, kan dit ook toegeskryf word aan die feit dat mense depressief en angstig raak wanneer hulle besluit om vleis op te gee.

Die navorsing wat in die nuwe analises ingesluit word, strek van 2001 tot in die middel van 2020 en sluit byna 172 000 deelnemers vanoor vier kontinente in. Uit dié groep het ongeveer 158 000 mense vleis geëet, terwyl 13 000 nie vleis geëet het nie.

Die analise het tot die slotsom gekom dat vleis-onthouding duidelik verbind word met swakker geestelike gesondheid.

‘n Navorsingspan van Duitsland het intussen ook bevind dat vegetariërs meer depressief is as vleis-eters.

Streng vegan-diëte kan soms tot ‘n tekort aan voedingstowwe lei, veral in die geval van swanger vroue. Dit verhoog op sy beurt die risiko van fisiese en geestelike siektes. Vitamiene B-12, folaat en omega-3 vetsure kom byvoorbeeld net in dierlike produkte voor en ‘n tekort daaraan word verbind met depressie, lae energievlakke en swak metabolisme.

Bron : https://www.businessinsider.com/vegans-report-higher-depression-anxiety-than-meat-eaters-2021-10?IR=T