Internasionale fokus op landboumisdaad

Die internasionale organisasie vir dieregesondheid, die OIE, die voedsel en landbou-organisasie van die Verenigde Nasies (FAO) en die internasionale kriminele polisie- organisasie, INTERPOL, het onlangs ‘n werkswinkel oor landboumisdade gehou.

Die werkswinkel was deel van ‘n projek om weerstandigheid teen landbou-misdaad en landbou-terrorisme op te bou en is daarop gemik om samewerking tussen die veterinêre en wetstoepassing-sektore te verbeter asook om multi-sektorale vermoëns op te bou om op dieregesondheid-noodgevalle wat deur die doelbewuste vrylating van diere-patogene veroorsaak word, te reageer.

Die virtuele werkswinkel het daarop gefokus om by te dra tot die ontwikkeling van ‘n padkaart om landbou-misdade wat ‘n invloed op dieregesondheid en welsyn- het, te hanteer.

Sodanige landboumisdade is by wyse van verskeie voorleggings en besprekings beskryf en binne konteks geplaas. Deelnemers kon hul ondervindinge van landboumisdade deel; uitdagings vir die veterinêre- en wetstoepassingsektore om daartoe in staat te wees om doeltreffend saam te werk is geïdentifiseer; en moontlike oplossings vir dié uitdagings is omskryf.

‘n Werksdefinisie vir landboumisdaad is voorgestel, naamlik “’n Doelbewuste of toevallige kriminele optrede teen diere of wat ‘n impak het op diere, die insette wat gebruik word om die diere te produseer, of hul produkte.” Wanneer sulke oortredings doelbewus begaan word, word dit deur finansiële of persoonlike redes gemotiveer. Sulke kriminele optrede kan skadelik wees vir mense, die ekonomie en sosiale aktiwiteite, voedselsekerheid, asook die nasionale veiligheid van ‘n land. Wanneer finansiële gewin die dryfveer is, word aktiwiteite van georganiseerde misdaad dikwels aangeblaas. Bio-misdaad is die dreigement of die gebruik van biologiese materiale of gifstowwe om mense, diere en plante skade aan te doen en word meestal ook deur finansiële gewin gedryf.

Die deelnemers aan die werkswinkel het ‘n wye reeks van dierlike landbou-misdade geïdentifiseer wat van kleinskaalse en plaaslike aard wissel tot wyd-verspreide, georganiseerde misdade.

Dit is in die volgende kategorieë geplaas:

  • Vervalste veterinêre en diereprodukte.
  • Dieregesondheid.
  • Agro-terrorisme.
  • Voedselbedrog.
  • Nie-nakoming.
  • Onwettige gebruik van wild.
  • Smokkelary.
  • Diefstal en stropery.

Die deelnemers het ook sekere oorkoepelende gebiede geïdentifiseer waar dierlike landboumisdade ‘n impak het:

  • Menslike gesondheid.
  • Lewensbestaan van mense.
  • Die ekonomie.
  • Dieregesondheid.
  • Biodiversiteit.

Die deelnemers het motiverings vir meer en beter samewerking tussen veterinêre en wetstoepassingsowerhede geïdentifiseer. Dit sluit in dat die kombinering van deskundigheid daartoe sal lei dat die inherente redes vir kriminele optrede aangespreek word en nie net die simptome nie. Verder verseker die kombinering van magte dat epidemiologiese- en wetstoepassingsondersoeke nie met mekaar bots nie, maar dat die twee gemeenskappe voordeel kan trek op die manier waarop forensiese en epidemiologiese ondersoeke mekaar komplementeer.

Die samewerking tussen die twee dissiplines word gekortwiek deur teenstellende doelwitte en prioriteite, insluitende beskikbare hulpbronne; die gebrek aan ‘n gedeelde begrip van die probleem en ‘n gebrek aan samewerkende raamwerke.

Ná die besprekings het die deelnemers nege gebiede geïdentifiseer waar samewerking tussen veterinêre dienste en wetstoepassingsowerhede bevorder kan word:

1. Voorspraak.

2. Gesamentlike bevordering van opleiding- en ontwikkelingskapasiteit.

3. Samewerkingsmeganismes.

4. Kommunikasie en bewusmaking.

5. Deel van inligting en intelligensie.

6. Gesamentlike spanne en aksies.

7. Wedersydse begrip.

8. Bou van verhoudings.

9. Risikobestuur.

Die volgende aspekte word gesien as deel van die belowende rigtings wat ingeslaan kan word as deel van ‘n toekomstige padkaart:

1. Beter metodes om bewyse te versamel en te gebruik om dierlike landbou-misdade aan te spreek.

2. Die deel van intelligensie en die bevordering van intelligensie-beoordeling om dierlike landbou-misdade hok te slaan.

3. ‘n Vermindering in die handel in vervalste dierlike- en veterinêre produkte.

4. Koordinering en harmoniseringsaksies om oorgrensmisdade aan te spreek.

5. Beide wetstoepassingsorganisasies en veterinêre dienste moet meer aandag skenk aan wild/omgewingsmisdade waarby diere betrokke is.

6. Om dierewelsyn ‘n fokus van samewerking tussen wetstoepassingsorganisasies en veterinêre dienste te maak.